Oor Ons | Click here for English |
COMPUTUS
COMPUTUS BESTUURSBURO, BK het op 1 September 1991 as ‘n burodiens in die Oos-Vrystaat begin funksioneer om aanvanklik boere se finansiële rekordhouding vanuit ‘n landbou-ekonomiese oogpunt te behartig. Gedurende 2001 het COMPUTUS lidmaatskap van SAIPA (South African Institute of Professional Accountants) opgeneem en sy finansiële rekordhoudingsdienste ook na besighede, anders as boerderye, uitgebrei. Sedert 2005 het COMPUTUS ook toenemend as kundige adviseurs by verskeie dispute met ‘n landbou-ekonomiese aard betrokke begin raak en praktiseer sedert die begin van 2008 ook as forensiese rekenmeesters. COMPUTUS beskik tans oor formele kwalifikasies en lidmaatskap om as professionele finansiële rekenmeesters, forensiese rekenmeesters en landbou-ekonome te kan optree. Dit word gerugsteun met praktiese ervaring op die gebied van finansiële rekordhouding, ondersoeke na dispute en advies met betrekking tot boerderybestuur.
COMPUTUS het in die bestek van meer as twee dekades homself onderskei deur waardevolle bestuursinligting by die normale finansiële rekordhoudingsfunksie te voeg met die vermoë om forensiese ondersoeke na dispute en ongeruimdhede te kan doen. Hierdie dienste word nie net deur boere en besighede vir besluitneming gebruik nie maar word ook deur groter organisasies benut.
COMPUTUS se klem op tydige en akkurate inligting het hom geloofwaardigheid besorg. Die tariewe is bekostigbaar en sy produkte en dienste is oor tyd beproef.
Dr Philip Theunissen Dr. Philip Theunissen matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Wolmaransstad en na sy diensplig behaal hy ʼn B Comm-graad aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy begin sy loopbaan in 1983 as 'n ekonoom by die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (nou Agri-SA) maar aanvaar vier jaar later 'n betrekking as landbou-ekonoom by Vrystaat Koöperasie. Hy was daarna ook Finansiële Bestuurder van 'n boerdery-maatskappy in die Paarl voordat hy in 1991 sy eie rekenmeesterspraktyk op Bethlehem begin het. Hy was tussenin ook betrokke by die ontwikkeling van korrespondensiekursusse vir boere oor rekordhouding, belasting en bemarking en was ook deeltydse lektor in Bestuur by 'n tegniese kollege. Hy was verder ook 'n voog by 'n technikon vir 'n vak oor rekenaarsagteware vir boerderye. Sy betrokkenheid by finansiële aspekte word ook weerspieël in sy nagraadse navorsing met 'n honneursveldstudie getiteld "Ondersoek na die knelpunte in die finansiering van beginnerboere", 'n meestersverhandeling getiteld "Die doeltreffendheid van landboukoöperasies in Suid-Afrika as kanaal vir die verskaffing van produksiekrediet" en 'n dokterstesis met die titel "Finansiële norme vir 'n gemengde boerdery in die Oos-Vrystaat". Gedurende sy loopbaan was hy ook al by verskeie dispute tussen boere en insetverskaffers en boere onderling betrokke waar hy 'n deskundige opinie moes gee. Toe die geleentheid hom in 2005 voordoen het hy saam met die eerste groep deeltydse student aan die NWU vir die meestersgraad in Forensiese Rekenmeesterskap ingeskryf. Na die verwerwing van die graad het hy ʼn belangstelling in bedrogvoorkoming in besighede en sport ontwikkel en sluit as lid aan by die Ethics Institute of South Africa. Hy is ook 'n vryskut joernalis en het al verskeie rubrieke in al die vernaamste landboutydskrifte van Suid-Afrika behartig. In 1993 is hy aangewys as Suid-Afrika se landboujoernalis van die jaar. In 2001 is sy artikel: "Wanneer moet 'n boer halt roep?" as beste artikel aangewys wat in SA Graan verskyn het. Hy het ook al by verskeie landbougeleenthede as gasspreker opgetree en het ook as gereelde gas aan verskeie radio- en TV-programme deelgeneem.
|
Marlize Theunissen Marlize Theunissen matrikuleer in 1978 aan die Hoërskool Kemptonpark en behaal daarna ‘n B Mus-graad aan die Potchefstroomse Universiteit. Sy voltooi ook haar Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Pretoria voordat sy aan die begin van 1984 begin skoolhou het. Sy bedank later uit die onderwys en gee privaat musiekonderrig totdat sy in 1995 korrespondensiekursusse vir boere oor finansiële rekordhouding, belasting en bemarking begin aanbied. In 1997 voltooi sy die Sertifikaatkursus in Afstandsonderrig aan UNISA se Instituut vir Volgehoue Onderwys. Sy skryf terselfdertyd ook by Technikon SA in vir die Nasionale Diploma in Finansiële Rekeningkunde en voltooi die kwalifikasie in 1999. Na voltooiing van die praktiese vereistes registreer sy in 2004 as professionele finansiële rekenmeester by die Instituut vir Administrasie en Handel en sluit as volwaardige vennoot by COMPUTUS aan. Buiten die totale rekenmeestersfunksie vir boerderye en besighede binne COMPUTUS, behels haar pligte ook die volledige kantooradministrasie en bestuur van die praktyk. Haar belangstellings is reis, kampeer, voetslaan en musiek.
Marli Harmse Marli Harmse het vanaf 1 September 2019 by Computus begin werk. Sy het in 2006 aan Hoërskool Witteberg in Bethlehem gematrikuleer. Sy het daarna B.Com Bestuursrekeningkunde aan die Noord Wes Universiteit op Potchefstroom gaan studeer en dit opgevolg met ‘n Honneurs en Meesters graad in dieselfde studieveld. Sy is vir elk van hierdie grade aangewys as Top Student vir die betrokke studierigting in die betrokke jaar. As Honneurs student het sy ook deelgeneem aan die CIMA Global Business Challenge en het as Suid-Afrikaanse wenners die NWU-span verteenwoorig by die internasionale finaal wat in Kuala Lumpur, Malaysia gehou was. As deel van haar Meesters graad is sy deur die NWU genomineer om as uitruilstudent ‘n gedeelte van haar studies aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te voltooi. Marli het ook in 2015 professioneel kwalifiseer as Chartered Global Management Accountant (CGMA) deur CIMA (Chartered Institute of Management Accountants). Sy het haar loopbaan begin as Kosterekenmeester by VKB se filiaal, Grainfield Chickens, op Reitz. Om meer ondervinding op te doen het sy ‘n geleentheid aanvaar by Rainbow Chickens op Rustenburg, ook as Kosterekenmeester. Vandaar het sy haar loopbaan in Johannesburg voortgesit in die verbruikersvoedselbedryf as rekenmeester in die logistiek- en vervoerafdeling van Premier, vervaardiger van bekende handelsmerke soos Snowflake, Iwisa, Blue Ribbon en Manhattan Sweets. |